Quantcast
Channel: Huis & Dekor – Huisgenoot
Viewing all 60 articles
Browse latest View live

Ons veg saam teen opgehoopte gemors

$
0
0

Suid-Afrika se opruimingskenner Kate Emmerson het in die 2 Mei-uitgawe van Huisgenoot en YOU raad gegee oor hoe jy jou opgegaarde rommel kan opruim en jou wêreld kan organiseer sodat jy ligter deur die lewe reis. Haar lewensleuse is: Leef ligter, leef beter, en sy wil jou inspireer om dit na te volg.

Dit lyk dalk nou na ’n groot taak, maar daar is eenvoudige wenke waarmee jy kan begin. Hier is nog wenke behalwe dié wat jy dalk in die tydskrif gelees het.

DIE KAMER

Wenk: Begin by jou bedkassie. Jy kan dit binne ’n uur afhandel en dit sal jou gemoed sommer ligter laat voel wanneer jy soggens wakker word. Hou slegs dit wat jy vanuit die bed moet raakvat en jou intiemste besittings op jou bedkassie. Moenie dit in ’n stortingsterrein laat ontaard nie en hou hoogstens twee boeke daarop sodat jy nie te skuldig voel dat jy dit nie lees nie.

DIE KANTOOR

Wenk: Pak eers alles van jou lessenaar af, maak dit goed skoon en sit slegs dit terug wat jou werk en produktiwiteit verbeter. Hou sowat 80 persent van jou lessenaar skoon om jou gedagtes op te ruim. Kate doen gespesialiseerde lessenaar-ingrypings as jy meer hulp hiermee nodig het.

DIE LEEFVERTREKKE

Wenk: Verwyder eerstens enige hopies wat nie daar hoort nie: papierwerk, te veel tydskrifte, die hele inhoud van die speelgoedkamer wat daar gelos is en enigiets wat elders hoort. Jou sitkamer is die plek waar jy op kort kennisgewing gaste moet kan ontvang.

JOU GEDAGTES

Wenk: Skryf eers alles neer wat jou pla, wat op jou doenlysie is of enigsins energie vereis. Kry een plek waar jy al jou inligting kan bêre, of dit nou ’n slim-toestel, notaboek, dagboek of rekenaar is. Moenie jou gedagtes op verskeie plekke neerpen nie.

JOU LIGGAAM

Wenk: Begin met die eenvoudigste stap: Drink WATER. Dit help met traagheid en wanneer jy sukkel om helder te dink, dit verhoog energievlakke, verlig hoofpyn en skete en help met spysvertering. Dit help jou liggaam van gifstowwe ontslae raak. Ek het ’n bottel op my lessenaar, een in my kar en het ’n speletjie waar ek by elke rooi verkeerslig ’n sluk neem.

JOU KOLLEGAS

Begin almal by die werk as ’n weerspieëling van jouself beskou. As jy nie hou van iets wat hulle doen wat produktiwiteit of pligte betref nie, vra jou af hoe jy dieselfde optree. Aanvaar verantwoordelikheid vir jou wêreld en begin anders te werk te gaan. Dit sal ’n ongelooflike uitkringeffek hê!

Kate Emmerson werk dwarsdeur Suid-Afrika. Sy reis baie en werk dikwels met kliënte via Skype en aanlyn. Sy is nie gebonde aan ’n spesifieke plek nie en sal na jou toe kom en help om jou lewe te verander. Haar jongste boek, Clear your Clutter, is ook beskikbaar in Afrikaans (Ruim jou Rommel op) en het in Mei verskyn. Jy kan dit kry by voorste boekwinkels landwyd, by Kalahari.com http://etrader.kalahari.com/referral.asp?linkid=5&partnerid=13181&sku=46922701 of direk op Kate se webtuiste http://www.kate-emmerson.com/shop koop of kontak haar direk met korporatiewe navrae. Sluit aan by haar Facebook-gemeenskap om in voeling en geïnspireer te bly en inligting te kry by https://www.facebook.com/kate.emmerson.page

-  Faiza Mallick


Wenk: So maak jy jou eie skuursakkie

$
0
0

Herwin en spaar – soos met hierdie metode om jou eie skuursakkie (pot scourer) te maak

Kouer weer = meer gebarste geisers

$
0
0

 

Die koue weer is nie al waarvoor jy die winter voorsiening moet maak nie. Met temperature wat daal, is geisers meer geneig om die gees te gee.

Praat van ’n tameletjie! Wie het dan nou lus vir water wat uit ’n gebarste geiser stroom terwyl jy eintlik net knus wil opkrul.

En dis meer geneig om te gebeur wanneer die kleppe of die termostaat op jou geiser foutief is. Dit gebeur omdat daar ’n verhoogde tempo van uitsetting en sametrekking in die tenk is weens die kouer weer.

Die skade wat ’n gebarste geiser kan veroorsaak, kan honderdduisende rande beloop; daarom is dit beter om goed voorberei te wees sodat jy die koste kan beperk of uitskakel

So kan jy koste weens ’n gebarste geiser vermy:
1. Laat ’n gekwalifiseerde loodgieter na jou geiser kyk voor die winter aanbreek.
2. Sluit strukturele skade aan jou huis wat deur ’n gebarste geiser veroorsaak kan word (beskadigde vloere of plafonne), in by jou huiseienaarsversekering.
3. Sluit skade aan eiendom (meubels, toestelle en klere) in by jou inhoudversekering.
4. Gaan jou versekering na om te kyk dat jy nie onderverseker is nie.
5. Installeer ’n geiserkombers om hitteverlies te verminder. Die temperatuur van die water in die tenk sal ook bestendiger wees. En jy bespaar ook op jou elektrisiteitsrekening, want jou geiser hoef nie so hard te werk en soveel krag te gebruik om die temperatuur bestendig te hou nie.
6. Installeer ’n drupbak onder die geiser – die drupbak se uitlaatpyp sal die meeste van die water wegvoer indien jou geiser bars. Dit help om waterskade aan matte, mure en ander huishoudelike items te beperk.
7. As voorsorgmaatreël moet jy elke drie jaar jou geiser laat versien deur ’n gekwalifiseerde loodgieter. Dit behels:
• Deeglike ondersoek van die geiser se onderdele.
• Ondersoek die tenk en kleppe vir lekplekke.
• Verwyder kalk en slyk uit die tenk en element.
• Kyk of die termostaat reg werk.
• Maak seker die termostaat is nie te hoog gestel nie – die aanbevole temperatuur is 60 0C.

Bron: Virseker

- Deur Faiza Mallick

Wenke: Koop om te Spaar

$
0
0

 

• Kies geennaamhandelsmerke, want hulle is dikwels goedkoper.
• Halfgaar rys is gewoonlik goedkoper. Koop groter pakke (wat goedkoper is), verdeel dit in porsies en vries dit
• Koop veselryke pap. As jy pappe eet wat baie suiker bevat, sal jy kort ná ontbyt weer
honger voel en dan wil peusel.
• Koop blikkieskos in groot maat (tot 12 blikkies) op spesiale aanbiedinge, maar kyk altyd na die vervaldatum
• Soppe in sakkies en plastiekhouers kan in groot maat gekoop word en vir tot drie maande
gevries word.
• As jy nie salm kan bekostig nie, is tuna ’n goeie plaasvervanger
• Rasper kaas en vries dit. ’n Mens is geneig om minder kaas te gebruik wanneer dit gerasper is.
• Koop hoenderborsies aan die been dit is gewoonlik goedkoper.
• Koop vars vis, want dit is baie goedkoper as die bevrore filette in bokse. Vra hulle moet die
vars vis in filette sny. Dis die beste om dit vars te eet, maar jy kan dit ook vries vir later.
• Bespaar elektrisiteit deur vleis die vorige aand uit die vrieskas te haal, pleks daarvan om dit in die mikrogolf te ontdooi.
• Moenie geurmiddels direk in die pot gooi nie.Die stoom maak dit klam en verkort hul leeftyd.
• As jy oorskietkos vries, sal jy altyd iets gereed hê wanneer die tyd knyp

Drie stappe: Kikker jou kaste op

$
0
0

Smeek jou ou kaste of kabinette om vernuwing?

Dan is hier goeie nuus: Dis maklik om ou kaste en kabinette nuwe lewe te gee sonder om die integriteit van ’n antieke stuk te verander. Gee ’n kas ’n spatsel kleur deur die binnekant te verf sonder om die buitekant te verander. Selfs gewone kombuiskaste kan in drie maklike stappe omskep word.

Stap 1
Vee enige stof of vuilheid met ’n lap af vir ’n skoon, stofvrye oppervlak wat verfgereed is. Plak maskeerband langs die kante van die deur en rakke om ’n netjiese buitelyn te skep om in te verf.

Stap 2
Afhangende van die oppervlak kan dit nodig wees om ’n grondverf of onderlaag soos Dulux Supergrip te gebruik om seker te maak die verf kleef aan die oppervlak.

Stap 3
Verf twee lae Dulux Pearl Glo met ’n klein of middelslag-verfkwas aan die gekose area (Emerald Delight is op hierdie stuk gebruik). Verf met egalige hale om ’n gladde afronding te verseker. Verwyder die maskeerband om jou meesterstuk te onthul.

Inkopielys

  • Lap
  • Maskeerband
  • Verfbak
  • Verfkwas
  • Verfroller
  • Onderlaagverf (indien nodig)
  • Dulux Pearl Glo-verf in ’n kleur van jou keuse

Kyk by http://youtu.be/prZmV-eui7I hoe ’n antieke kas met ’n skeut kleur omskep word.

Bron: Dulux

Regstelling:Lampprojek

$
0
0

Brian Rowell, een van ons lesers, het laat weet ons doen-dit-self-projek van 11 Julie is nie baie veilig nie.

Hier is raad van ‘n elektrisi”en oor hoe jy die oulike projek veilig kan maak:

Die gloeilamp moenie sterker as 60 W wees nie of dit moet ‘n energiebesparende gloeilamp wees sodat daar nie te veel hitte opgebou word nie.

Tweedens moet die gloeilampsok van plastiek of porselein wees sodat daar geen kraggeleiding is nie.

Omskep ’n beker of koppie in ’n lig

$
0
0

Omskep iets doodgewoons in iets besonders deur ’n koffiebeker of teekoppie in ’n pragtige lig om te tower. Ons wys jou hoe:

Jy benodig:

  • ’n Beker of teekoppie
  • Borsel of sponsroller
  • ’n Waterbasis-onderlaag wat jy op meer as een oppervlak kan gebruik
  • Drupbestande emaljeverf (in ’n kleur van jou keuse)
  • Diamant-boorpunt
  • Kragboor
  • Elektriese koord
  • Ligkoppelstuk
  • Gloeilamp

Stap 1:

Boor in die bodem van die beker of koppie ’n gaatjie vir die elektriese koord. Onthou om ’n diamant-boorpunt te gebruik wanneer jy met glas of porselein werk, aangesien dit maklik breek. Voeg ’n bietjie water by om stof weg en die boorpunt koud te hou.

Stap 2:

Maak seker die koppie of beker is droog en sonder stof. Gebruik ’n borsel of sponsroller en bedek die binnekant van die koppie met die onderlaag. Laat dit ’n uur of twee staan om droog te word.

Stap 3:

Maak seker die onderlaag is droog voor jy die emaljeverf aanwend. Wend verkieslik twee lae van die emalje aan. Wag twee tot drie uur ná elke laag sodat dit kan droog word.

Stap 4:

Sodra jou tweede laag droog is, druk die koord deur die koppelstuk en laat ’n elektrisiën dit konnekteer.

BRON: Bennum van Jaarsveld van Dulux

 

WENK: So maak jy ‘n geblomde bord

$
0
0

Hoekom kikker jy nie ‘n paar van jou gewone borde op met ‘n prettige blompatroon nie? Dis so maklik.


Klein botteltjie, groot gif: Ontwerpwenke vir klein badkamers

$
0
0

Dit lyk dalk moeilik om kreatief te dink as jy beperkte ruimte het, maar ’n mens kan ’n klein plekkie in ’n droomvertrek omskep. Met ons ontwerpwenke kan jy jou beknopte badkamer omskep in ’n asemrowende toevlugsoord met pragtige dekor.

bathroom

Wees realisties 

  • Moenie by jou gunsteling-dekorwinkel indraf en alles waarvan jy hou vir jou nuwe badkamer koop nie. Kyk eers mooi na die ruimte wat jy tot jou beskikking het.
  • Maak ’n aantekening van die mates sodat jy voldoende vir die ruimte kan voorsien sonder om oorboord te gaan of te knap te kies.
  • Te veel goed in ’n klein vertrek sal die plek meer beknop en minder aangenaam laat lyk. Kies eerder sleutelitems wat trefkrag sal hê.
  • Eenvoud is die beste keuse as jy ’n aanloklike maar gemaklike badkamerruimte met houkrag wil skep.

 Eenvoud en elegansie  

  • ’n Mens kan maklik voor die versoeking swig van elke mooi ding koop wat jy sien. Afgesien daarvan dat jou beursie ’n knou kry, sit jy ook dalk met ’n badkamer vol goed wat nie eens bymekaar pas nie. Eenvoud is die sleutel.
  • Kies ’n trefferstuk vir die vertrek – of dit nou ’n mosaïekvloer, fokusmuur, aantreklike spieëlkas, skouspelagtige ligtoebehore of bedrukte stortskerm is. Die res van die vertrek moet skoon gehou word. Kies krane, bykomstighede en sanitêre ware met eenvoudige, skoon lyne. Sorg dat die ontwerp egalig vloei.

 Druk jou stempel af 

  • Jou plek is dalk klein, maar dis steeds joune. Met unieke afronding kan jy ’n eksklusiewe badkamer skep wat jou en jou gesin se persoonlikheid weerspieël.
  • Teëls in die hele badkamer sal die ruimte eenvormig en groter laat lyk.
  • Dit is ook ’n goeie idee om ’n bietjie detail by te voeg vir tikkie uniekheid. Dit sal die plek diepte en kleur gee sonder om dit oorvol te laat lyk.
  • Laat ’n swart muur as skilderdoek dien. Dit kan jou badkamer lewe gee.
  • Skep ’n fokusmuur deur ’n hele muur te bedek met teëls wat ’n interessante tekstuur, patroon of kleur het. Jy kan ook die muur oorkant die bad met ’n spieël bedek.
  • Spieëls is ’n wonderlike manier om ’n ruimte groter te laat lyk.
  • Jy kan jou badkamer verpersoonlik met plante soos orgideë vir ’n spatsel kleur. Jy kan ook bykomstighede soos ’n prettige stortgordyn, badmat of handdoeke gebruik of ’n treffende kunswerk ophang. 

 Bespaar ruimte 

  • Bonkige goed is nie ’n slim idee as jy wil ruimte bespaar nie. Kies eerder ’n alles-in-een wasbak-en-badkamerkas wat in verhouding met die ruimte is.
  • Moenie allerhande goed laat rondstaan as jy min ruimte het nie. Skep genoeg pakplek sodat jy al jou toiletware netjies kan wegpak.
  • Kies ’n muurtoilet, want dit skep ’n ruim en elegante voorkoms. En omdat ’n muurtoilet van die grond gelig is, skep dit die illusie van ekstra vloerruimte.

Lig en verf 

  • ’n Ruimte wat met lig gevul is, lyk altyd groter. Raak ontslae van daardie vaal badkamerlig uit die 70’s en belê in ’n mooi, klein, moderne een.
  • As jou badkamer ’n venster het, benut die natuurlike lig. Hou die vensters skoon en hang gordyne of blindings wat die lig sal laat deursyfer. (Dus geen gordyne wat al die lig uithou nie).
  • As jou badkamer nie ’n venster het nie, oorweeg dit om ’n dakvenster te laat insit. Dit bespaar ook krag.
  • Jy kan ook spoorligte laat installeer om die illusie van ’n langer vertrek te skep.
  • Spieëls is ook ’n wonderlike manier om lig te beklemtoon, want hulle weerkaats en versterk enige lig in die vertrek.
  • Die kleur van die vertrek sal ook beïnvloed hoe lig en helder dit lyk. Vermy donker kleure en hou die plafon wit.
  • Kies eerder sagte, neutrale skakerings. Nie net sal dit die badkamer verfraai nie, dit sal ook voorkom dat dit gou uit die mode raak.

-          Faiza Mallick

 

Bron: Bathroom Bizarre, www.bathroombizarre.co.za

 

 

 

 

Droomkamer

$
0
0

’n Mens is dikwels geneig om die binneversiering van babakamers te oordoen. Met net ’n paar oulike toevoegings kan ’n eenvoudige kamer omskep word in ’n droomkamer vir ’n pasgebore baba.

Om by een helder kleur te hou is ’n goeie manier om die babakamer met min geld treffend te laat lyk. Tog kan een kleur maklik hard en koud lyk. Versag dus die voorkoms met ’n klompie noukeurig-uitgesoekte items en mooi ontwerpe in delikate kleedstowwe. Rangskik dit vir ’n informele voorkoms op rakke of in mandjies oral in die kamer.

Kry die voorkoms

KLEURE: Kies een kleur en hou daarby. Helder kleure is beter as pastelle vir ’n eenkleur-tema. Vul dit aan met ontwerpe, detail en aksente in kontrasterende kleure. Hou by dieselfde sterk kleur en diepte as jou hoofkleur, soos karmosynrooi met sonskyngeel, of kobaltblou met blaargroen.

MURE: Babas reageer van vroeg af op kontrasterende vorms. Plaas ’n plakker of sjabloon waar die baba dit kan sien. Hier is die plasing van die oulike swaaiontwerp aan die kant van die bababedjie baie treffend.

KLEEDSTOF: Vars wit en bekostigbare bababeddegoed word saam met ou ontwerpe en borduurwerk gebruik. Hierdie voorkoms is baie veelsydig en kan vir ’n seuntjie of meisietjie geskik wees. Gebruik ou cowboy-patrone vir ’n seuntjie en blomontwerpe vir ’n meisietjie.

MEUBELS: Enige tradisionele, eenvoudige bababedjie kan met helder verf opgekikker word.

BYKOMSTIGHEDE: Die sukses van die styl hang af van die aandag aan detail in die items wat informeel in die kamer gerangskik is. Alles sê jy gee om: die fyn borduurwerk op die kussing, die met die hand uitgewerkte boodskap op die kartondoos, die strooisel harte en die spesiale bottel.

BERGING: Klein reistasse werk goed vir berging en jou kind kan dit regdeur sy grootwordjare gebruik; dieselfde geld vir ’n groot mandjie op die vloer vir speelgoed en linne.

- Sam Scarborough

Oor Sam

Sam, self ’n ma, skryf oor binneversiering en skeppende items vir kinders om ander ma’s aan te spoor om tuis kreatiewer te wees. Sam glo ’n kind se omgewing is sy eerste stappie na kreatiwiteit.

Sam het haar eie maatskappy vir die binneversiering van kinderkamers. Sy spesialiseer in die ontwerp van produkte vir skeppende speelplekke en speel-idees vir kinders. Sy is ook ’n konsultant vir binneversiering, met die klem op kinderkamers. Sam bied dekorwerkwinkels aan, waartydens sy ouers blink planne vir hul kinders se kamer en speelplekke gee. Sy het al werkwinkels saam met Wellness Warehouse, die tydskrifte Home & Tuis en Plascon in Gauteng aangebied.

Mooi speel

$
0
0

Om ’n babakamer in te rig hoef nie die wêreld se geld te kos nie, veral nie as die kamer voorheen reeds as ’n slaapkamer gebruik is nie.

Ou meubels kan met wit verf nuut gemaak word. Versier ’n meisiekamer deur die mure ’n mooi pienk skakering te verf en dit met strepe en muurplakkers of template af te rond.

MAIN_07102013

Kry die voorkoms

KLEURE: Pienk en nog pienk!

Pienk met ’n blou ondertoon, soos lila, sal die suikersoet voorkoms van ’n pienk kamer tem. Jy kan ook rooi en donkerder pienk aksente hiervoor gebruik. Die bedjie se kougom-kleur verhoed ook dat pienk jou oorrompel.

MUUR: Lila-pienk en malvalekkerpienk is in “ticking”-strepe op ’n amperwit basis op drie van die mure in die kamer geverf.

Met ’n lang liniaal en maskeerband is dit maklik om dit te doen. Meet die afstand aan die bokant van die muur en aan die onderkant, en verbind dit met die maskeerband. Daar is ook baie muurpapier met ’n “ticking”-tema in winkels.

Op die ander muur verleen ’n oulike boom en swerm voëls ’n spelerige voorkoms. Die ontwerp help ook om die afstand tussen die kinderbedjie en bed te bepaal. Moenie bang wees om meubels voor die patroon te plaas nie, aangesien dit nog ’n dimensie skep. Ons het dit hier gedoen met die koekoekhorlosie en hanglamp.

KLEEDSTOF: Strepe lyk mooi by alles, maar klein blommetjie- en delikate paisley-ontwerpe maak dit meisiemooi.

TOEBEHORE: Voëls lyk pragtig en fyn in ’n kinderkamer, maar moet dit nie oordoen nie. Sagte kussings in die baba se voorletters gee ook ’n persoonlike voorkoms.

BELIGTING: Om ’n lamp naby die bedtafeltjie te hang beklemtoon die delikate lampkap en gee goeie beligting vir lees in die bed. ’n Oulike kraleversierde lampie in die vorm van ’n paddastoel kruip in die boekrak weg. ’n Lampie ’n entjie weg van die bedjie maak ’n goeie nagliggie wat nie direk op die bed skyn nie.

MEUBELS: Jy hoef nie ’n fortuin op nuwe meubels vir die baba uit te gee nie. Outydse rakke en kaste kan herwin en oorgeverf word om by die kamer se skema te pas. Babaklere en -kombersies is dikwels heeltemal te mooi om weg te pak. Versier dus die binnekant van die kaste om die baba se mooi goedjies te vertoon. Rakke kan met kleedstof, muurpapier of selfs geskenkpapier uitgevoer word. Gebruik in die plek van ’n duur, doelgemaakte aantrekstasie ’n ou tafel om die baba se doeke op om te ruil. Nog ’n voordeel hiervan is dat die tafel steeds gebruik kan word wanneer die kind ouer is.

Binneversierwenk: Babas kry dikwels sulke mooi goedjies. Vertoon dit deur die binnekante van kaste te versier of die laaie uit te voer. Kleedstof, muurpapier en selfs geskenkpapier kan as ’n goedkoop en uiters doeltreffende manier gebruik word om ’n donker kas te versier.

- Sam Scarborough

Oor Sam

Sam, self ’n ma, skryf oor binneversiering en skeppende dinge vir kinders om ander ma’s aan te spoor om skeppender in hul gesinne en huise te wees. Sam glo ’n kind se omgewing is sy eerste stappie na kreatiwiteit.

Sam het haar eie binneversiermaatskappy, en spesialiseer in die ontwerp van produkte vir kreatiewe speelareas en speelidees vir kinders. Sy is ook ’n binneversierkonsultant, met die fokus op kinderkamers. Sam bied skeppende dekorwerksessies aan, waarin sy ouers blink planne vir hul kinders se kamers en persoonlike ruimtes gee. Sy het al in Gauteng werksessies aangebied saam met Wellness Warehouse, die tydskrif Home & Tuis en Plascon.

Wenk: So maak jy ‘n glinster-bokkop

$
0
0

Lus vir ‘n vrolike verandering aan jou kamer of jou huis? Wat van hierdie glinster-bokkop wat jy self kan maak – in enige kleur wat by jou bestaande decór inpas?

KLIK HIER vir die koedoe-kop

KLIK HIER vir die springbok-kop

Berg dit stylvol

$
0
0

Die lente bring ’n gevoel wat soortgelyk is aan wat ons met die Nuwejaar beleef; dis ’n tyd om na te dink, te vernuwe en van oortollige goed ontslae te raak.

Berging is ’n groot deel van hierdie organisasie. Ekstra komberse en dik winterklere moet weggepak word en klerekaste moet herrangskik word. Die goeie nuus is dit hoef nie vervelig te wees nie. Bergingsruimte kan mooi wees . . . dus gaan ons kyk na ’n klompie stylvolle maniere om dit te doen en terselfdertyd jou huis op te kikker.

Foto’s: Interior Creators

Foto’s: Interior Creators

’n Plaaslike maatskappy het ’n pragtige reeks bergingskratte geskep, wat verlede maand by Decorex uitgestal is. CakeGoed het hierdie houtkratte met leuses soos op die bekende Keep Calm-plakkate versier, met ’n oulike kinkel daarin. Hulle het ook ’n reeks pragtige silhoeëttonele vir ’n klassieker voorkoms.

Foto’s van: imgfave.com en weylandts.co.za

Foto’s van: imgfave.com en weylandts.co.za

Nog ’n veelsydige bergingsopsie is om reistasse of trommels te gebruik. Jy kan ’n grootte, vorm en styl kies wat goed as ’n kanttafeltjie of koffietafel sal werk. Jy kan waarskynlik ’n paar reiskoffers by jou ouers of grootouers kry. Dit kan ’n waardevolle erfstuk wees wat jy vir jou kinders kan nalaat. Andersins kan jy in oudhedewinkels of vlooimarkte gaan rondsnuffel daarvoor. Die meubel-en-binneversieringswinkel Weylandts het ’n reeks trommels en koffers wat van ’n nywerheids- tot ’n meer antieke voorkoms wissel.

Foto’s van: babble.com en maxitendance.com en blockandchisel.co.za

Foto’s van: babble.com en maxitendance.com en blockandchisel.co.za

Mandjies is noodsaaklik vir berging. Jy kan hulle in ’n verskeidenheid groottes en verskillende weefpatrone kry. Hier is elegante styfgeweefde mandjies, wat goed werk vir sagte linneware, asook bonkige, losgeweefde mandjies wat ideaal is vir die berging van hout of opgerolde komberse. Albei is beskikbaar by Block and Chisel.

Draadmandjies en akrielhouers werk baie goed om jou studeerkamer, linnekas of spens te herorganiseer. Hulle stel jou in staat om items te groepeer, terwyl jy steeds maklik kan sien en kry wat jy nodig het.

Hierdie oulike voorbeelde van Pinterest wys ons hoe goed hulle kan werk.

Foto’s van: mechantdesign.blogspot.com en shelterness.com

Foto’s van: mechantdesign.blogspot.com en shelterness.com

Lekker huis skoonmaak!

1110 DIY Brokkie photo 5 - Janel Deur Janel Nell: http://www.interiorcreators.com/

Interior Creators bied ’n gespesialiseerde, aanlyn binneversieringsdiens vir huise asook kantoor-/winkelruimtes, met die klem op selfdoen- en selfkoop-neigings. Interior Creators bied ook toegang tot produkte en diensverskaffers wat kliënte in staat sal stel om te voldoen aan hul ontwerpbehoeftes wat meubels – oud, nuut en opgeknap – betref.

Leefstyl: Weeldelig

$
0
0

Hierdie lampskerm uit hout sal pragtig pas in die sit- of slaapkamer

KLIK HIER vir die aanwysings

KLIK HIER vir die aflaaibare drukstuk

Huisgenoot 17 Oktober 2013

Die mooiste babakamer in die buurt

$
0
0

Sam Scarborough, binneversierder van kinderkamers, deel slim planne vir ’n towermooi babakamer.

Lekker by die see

Ons het almal goeie herinneringe aan seevakansies; geen wonder die seevoorkoms bly gewild wat binneversiering betref nie. Seiljagte en ligtorings, vlaggies en lanterns, emmers en grafies, visse en seemeeue . . . dis net ’n paar dinge wat jou aan die see laat dink. Met hierdie bekende beelde kan jy jou kinderkamer maklik ’n seevoorkoms gee.

Met ’n seetema is daar tallose binneversiermoontlikhede.

Dis so mooi, byna alles kan hier gebruik word. Met net twee wit rottangmeubels word die beperkte ruimte in hierdie vertrek maksimaal benut. Die bababedjie kan rondgestoot word. Dis ’n rustige kamer en ideaal vir ’n baba wat by die see bly. Vir ’n meer klassieke voorkoms kan wit hout, linne en bleekblou gebruik word.

Die voorkoms kan so sag of helder wees soos jy daarvan hou: wit meubels met rooi, wit en blou daarby is die gewone seevoorkoms. Tog kan enige skakering van seegroen of songebleikte grys ook gebruik word. Rottangbedjies en meubels lyk ook baie mooi by hierdie tema. Kleedstowwe kan wissel van eenvoudige seil tot helder strepe of boot- en seepatrone.

Die gebruik van blou bykomstighede, asook die seilboot- en ankerpatroon, skep ’n rustige seestemming vir ’n seuntjie se kamer. Vir meisietjies kan jy die meer Victoriaanse temas van moeselien en kant, gestreepte aantrektente, Punch en Judy, en speletjies op die sand gebruik.

Oop rakke werk die beste vir die uitstal van ornamente wat inpas by die seetema en gee die tema diepte. Pennetjies waaraan jy gestreepte sakke en handdoeke hang, dra by tot die seevoorkoms.

Babavoëltjies

Die delikaatheid en fynheid van voëls; die grasie van hul vlug, maak ’n voëltema ideaal vir ’n kinderkamer.

Daar is deesdae ’n groot verskeidenheid muurpapier en produkte met ’n voëltema beskikbaar waarmee jy die mooiste kamer vir jou eie klein kuikentjie kan maak.

Voëltemas kan by enige kinderkamerstyl ingewerk word. Hier het ons dieselfde muurpapier wat op twee wyses gebruik word – vir ’n nostalgiese, outydse voorkoms, en ’n baie deftiger kamer in die Franse styl.

’n Ou rottangbedjie en ’n paar stukke retro meubels kan ouwêreldse sjarme aan hierdie voëlkamertjie verleen. Die klein voëlkou-liggie lyk selfs mooier met sy outydse lampkap. Die kleure in die muurpapier maak dit moontlik om die kamer te versier voor die baba kom, en sodra jy weet wat die kleinding se geslag is, kan jy pienk of blou bykomstighede bysit!

Dis dieselfde muurpapier as voorheen, maar dis op ’n baie deftiger wyse aangewend. Hierdie klein prinsie se kamer lyk weelderig met ’n kroon en sydraperings oor die bedjie, en antieke Franse meubels. Die voëltema word in baie van die bykomstighede herhaal, van mooi papiergewigte tot pragtig geborduurde kussings.

Om oor te twiet – ’n voëltjiekamer met ’n nostalgiese voorkoms.

In hierdie kamer met sy ouwêreldse sjarme is daar voëls net waar jy kyk.

Oor Sam

Sam, self ’n ma, skryf oor binneversiering en skeppende dinge vir kinders om ander ma’s aan te spoor om skeppender te wees. Sam glo ’n kind se omgewing is sy eerste stappie na kreatiwiteit.

Sam het haar eie binneversiermaatskappy en spesialiseer in die ontwerp van produkte vir kreatiewe speelareas en -idees vir kinders. Sy is ook ’n binneversierkonsultant, met die fokus op kinderkamers. Sam bied skeppende dekorwerksessies aan, waarin sy ouers blink planne vir hul kinders se kamers en persoonlike ruimtes gee. Sy het al in Gauteng werksessies aangebied saam met Wellness Warehouse, die tydskrif Home & Tuis en Plascon.


Doen-dit-self: Spokerasies

Meubels vir buite

$
0
0

Die temperatuur styg, die lug is blou en die warm weer maak ons lus vir buite kuier. Of jy nou ’n ontspanne braai of ’n tuinpartytjie hou, jou buitemuurse meubels is jou beste en belangrikste stylbelegging. Ons kyk na buitemeubels wat jou smaak en behoeftes pas.

1. Gekleurde metale

Foto’s: safaffect.wordpress.com, chaircrazy.co.za

Foto’s: safaffect.wordpress.com, chaircrazy.co.za

As jy hou van die effense ruwe, industriële voorkoms, kan jy dit oorweeg om hout en metaal vir jou eetarea te kombineer. ’n Timmerhouttafelblad met ’n natuurlike afwerking kan ’n helderkleurige metaalstoel komplementeer. As jy ’n meer gedempte kleurskema verkies, kan jy die stoel in skakerings van grys kry, soos in die foto links. Of jy kan die ruimte met ’n helder kleur opkikker. Die plaaslike verskaffers Chair Crazy het ’n treffende oranje stoel.

2. Landelik sjiek

Landelik sjiek

Foto’s: missmegnificent.tumblr.com, blockandchisel.co.za

As jy ’n ontspanne maar gesofistikeerde voorkoms verkies, is die landelik-sjiek-voorkoms die regte een vir jou. ’n Bonkige houttafel wat óf met sy natuurlike afwerking gelaat óf gekombineer word met wit geverfde aksente is ’n onderbeklemtoonde middelstuk. Stoele met houtrame en linnestoffering rond dié voorkoms af. Block & Chisel het ’n mooi reeks buitemuurse houtmeubels.

Wenk: Dié soort stoele werk die beste vir ’n bedekte stoeparea om die meubels teen die weer te beskerm.

3. Sit-sit so

Foto’s: wooninspiratie.nu, blocoutdoor.co.za

Foto’s: wooninspiratie.nu, blocoutdoor.co.za

Sitbankagtige buitesitplekke is om verskeie redes ’n goeie opsie. Die banke kan onder die tafel gebêre word, wat nuttig is vir kleiner ruimtes. Dis ook prakties vir groot groepe mense en buitekussings kan sorg vir ’n sagte sitplek. As jy dié voorkoms ’n bietjie wil opkikker, kan jy kontrasterende stoele aan die punte in ’n anderste afwerking of styl gebruik. Die stel in die regterkantste foto is by Bloc Outdoor Furniture te kry.

4. Lig en mooi

Foto’s: blogg.skonahem.com, mobelli.co.za

Foto’s: blogg.skonahem.com, mobelli.co.za

Al is dit hoe lekker om op ’n warm dag buite te eet, wil jy steeds koel bly. ’n Stoel van weefstof is stylvol en lugtig, en wit of swart stoele sorg vir ’n vars, moderne voorkoms. Die stel in die regterkantste foto is by Mobelli te kry.

5. Eklekties klassiek

Foto’s: homedepot.com, chaircrazy.co.za

Foto’s: homedepot.com, chaircrazy.co.za

UV-beskermde polipropileen-/plastiekstoele is ’n veelsydige keuse. Dit kontrasteer goed met meer tradisionele of growwe houttafels om ’n eklektiese voorkoms te skep. Die Panton-stoel is een van die mees ikonies gevormde stoele en is in ’n verskeidenheid kleure beskikbaar. ’n Wit Panton-stoel, soos dié by Chair Crazy, is ’n uitstekende keuse vir ’n tydlose voorkoms.

1110 DIY Brokkie photo 5 - JanelDeur Janel Nell: interiorcreators.com

Interior Creators bied gespesialiseerde binnenshuise ontwerpdienste vir huise asook kantore en kleinhandelruimtes en bevorder die “doen-dit-self”- en “koop-dit-self”-neiging. Interior Creators bied ook toegang tot produkte en diensverskaffers wat in klante se behoeftes voorsien wat betref afwerkings en meubels, hetsy nuut en opgeknap.

Blink planne met blikke

$
0
0

blik-main1

’n Klomp weggooigoed wat andersins in die asdrom sou beland het, kan ingespan word om dié sewe dekoritems te maak

Gereedskap & materiaal

  • Hamer
  • Ou blikke
  • Boor en 6 mm-boorpunt

Inkopielys

  • Tweedehandse diefwering
  • 1 pak (15) veiligheidsboute van 8 x 75 mm
  • 1 pak (10) plastiekproppe van 10 mm
  • 1 pak (30) standaard-klipskroewe van 20 mm
  • 1 sak (15 dm³) potgrond
  • 1 sak (7 dm³) dreineerklippe
  • Kruie en steggies
  • 1 pak (10) kabelbinders

Stappe

  1. Boor gate in ’n buitemuur en druk die plastiekproppe in gevolg deur die boute. Kies ’n plek soos bo ’n bedding of waar water maar op die grond kan drup en wegloop.
  2. Kap met die klipspyker 2 gate sowat 2 cm uit mekaar horisontaal aan die agterkant van elke blik in. Steek ’n kabelbinder deur die gate van elke blik; begin en eindig buite die blik. Kap ook 3 gate in die onderkant van elke blik vir dreinering.
  3. Pak die dreineringsklippies onderin die blikke en bedek dit met potgrond. Plant die kruie en steggies diep in die grond. Heg die blikke met kabelbinders aan die diefwering vas.
  4. Maak die plante goed nat sodat hulle nuwe wortels kan ontwikkel.

Met liefde gemaak

$
0
0

Raak kreatief met mooi materiaalkuns vir jou babakamer.

Swangerskap is die volmaakte tyd om maklike projekte aan te pak om die nuwe baba mee te verwelkom. Handnaaldwerk is ’n lekker aktiwiteit wanneer jy ’n stil oomblik het om jou voete te laat rus. En nou is die tyd om dit te doen, want sodra die baba daar is, sal jy nie ’n oomblik vir jouself hê nie!

Hier is ’n paar eenvoudige en maklike idees om jou aan die gang te kry. Handwerkwinkels verkoop dikwels sakke laslappie-vierkante wat ideaal is vir van die projekte. Anders kan jy by liefdadigheidswinkels gaan rondsnuffel vir antieksjiek materiaal. Daar sal jy waarskynlik ’n geblomde rok of hemp kry wat jy kan opknip of dalk selfs ou geborduurde linne.

Gebruik etikette wat met die hand uitgewerk is om jou baba se kas te organiseer. Jy kan sommer tou of enige koord gebruik om letters mee te skep. Teken eers die letters met potlood op die materiaal en werk hulle dan uit met steke in ’n teenstellende kleur.

Meng en pas

Meng en pas

Skep self ’n kwilt met stukkies afvalmateriaal. Knip harte uit patroon- en effekleurige materiaal en werk hulle aan mekaar vas om unieke komberse en linne te skep. Afhangend  van die materiaal kan jy die kante met ’n kartelskêr afwerk of hulle soomloos los. As jy kleeflint aan die agterkant van die materiaal plak voor jy dit knip, sal dit ’n netjiese, minder rafelrige rand hê. Moenie die kleeflint aftrek nie, want dit sal net ’n groter probleem veroorsaak. Werk daardeur.

Maklike naaldwerk

Maklike naaldwerk

’n Lieflike idee om jou baba se kamer mee te verpersoonlik, is om ’n keur van mooi stukkies afvalmateriaal te gebruik en met eenvoudige rygsteek te versier. Tik jou baba se naam in ’n geskikte lettertipe op die rekenaar uit. Vergroot dit op die skerm, druk uit en knip dan uit. Vergroot weer op ’n fotokopieerder as jy die letters nog groter wil hê. Gebruik dit as ’n sjabloon om die materiaalletters uit te knip. Werk met die hand steke om elke letter – meng en pas materiale en gares. Voeg ’n hart en knopie of enige ander voorwerpe by vir oppervlakdetail. Linte en strikke werk ook mooi.

Teken letters met die hand of maak drukstukke van ’n lettertipe waarvan jy hou en gebruik dit as sjabloon vir die materiaalletters. Kombineer verskillende pienke in effe kleur, geruite of geblomde materiaal om ’n meng-en-pas-linnestel te skep. Jy hoef nie ure lank te borduur nie; eenvoudige en maklike rygsteek kan in ’n ommesientjie gedoen word.

Masjienborduurwerk

Masjien

As jy knap is met ’n naaimasjien, kan jy diervorms op die materiaal applikeer en die masjienborduurwerk deel van die ontwerp maak.

Wenk: Borduurwerk en enige ander afwerking moet gedoen word voor jy appliekwerk op die materiaal doen.

Verpersoonlik duvet- en kussingoortreksels en wiegiebuffers; hierdie woorde is met ’n masjien geborduur.

Deur Sam Scarborough 

Oor Sam

Met haar kinderdekorboeke en kreatiewe produkte wil Sam ander ma’s aanspoor om kreatiewer by die huis te wees. Sam meen ’n kind se omgewing is die eerste stap tot kreatiewe ervaring en uitdrukking.

Sam se kinderdekoronderneming spesialiseer in die ontwerp van produkte vir kreatiewe speelruimtes en speel-idees vir kinders. Sy is ook ’n dekorkonsultant wat veral werk met kinderkamers. Sam bied ook kreatiewe dekorslypskole aan waar sy ouers inspirerende dekor-idees gee vir hul kinders se slaapkamer en persoonlike ruimte.

 

Vir nog wonderlike idees vir kinderdekor besoek www.kidsdecor.co.za of www.facebook.com/kids.decor.designs

Wees gereed vir kuiertyd

$
0
0

“Die ornament van ’n huis is die vriende wat daar kuier.” – Ralph Waldo Emerson

Die vakansiertyd is hier binne ’n oogwink . . . en ons weet wat dit beteken: Dis weer tyd om Kersversierings op te hang en kuierplanne te maak. Dit beteken dalk ook dat ’n paar vriende of familielede sal oornag. En soos Emerson sê, is jou gaste die ware versierings van jou huis. Ons gee ’n paar eenvoudige en doeltreffende maniere om jou gastekamer op te kikker sodat jou kuiermense welkom voel en lekker bly.

Foto’s: thatluciegirl.tumblr.com en zarahome.com

Foto’s: thatluciegirl.tumblr.com en zarahome.com

’n Gastekamer moet ’n gerieflike blyplek aan jou gaste bied. Dit berus grootliks op die regte beddegoed. Jy wil nie hê jou gaste moet snags te koud of te warm kry nie; daarom is ’n mengsel van ligte en swaar beddegoed die beste. Begin met ’n katoenlaken met ’n hoë veseltelling. Volg dan die voorbeeld van die meeste gastehuise, en plaas ’n katoenkombersie, gevolg deur ’n vereduvet bo-oor. Dit sal voorsiening maak vir alle temperature.

Daar moet ook ’n verskeidenheid kussings wees, aangesien sommige mense plat of sagte kussings verkies. Rond af met ’n klompie strooikussings bo-oor en jou slaapkamerdekor lyk stylvol en knus.

Aangesien ’n gastekamer nie elke dag gebruik word nie, sal beddegoed van goeie gehalte langer hou en is dit ’n goeie belegging. Hou by ’n neutrale skema met die beddegoed en versier met pragtige gekwilte of bonkige gebreide oorgooikombersies. 

Guest room2

Foto’s: freedomcurtainsandblinds.com.au en curtainstudio.co.nz

Jy moet ook aandag skenk aan die vensters en vloere. Kleedstof wat lig blokkeer is die perfekte opsie vir gordyne of blinders in ’n gastekamer. Hulle hou die kamer nie net donker sodat jou gaste laat kan slaap nie, maar hou dit ook koel in die somer. ’n Groot verskeidenheid blokkeerkleedstowwe met voerings en in verskillende kleure is beskikbaar. Nog ’n deurskynende gordyn aan die agterkant, op ’n dubbele spoor, verseker privaatheid wanneer jy natuurlike lig in die kamer wil hê.

guest room3

Foto’s: dwr.com en garnethill.com

’n Houtvloer is ideaal in ’n gastekamer aangesien dit maklik is om skoon te maak en geskik is vir mense met allergieë. Die nadeel is dat dit effens kouer en meer lawaaierig is. Hierdie probleme kan maklik opgelos word met ’n mat wat by die kamer se dekor pas. ’n Mat van natuurlike stowwe soos vlas, met ’n filtonderlaag, vir gemaklike sofistikasie nie is nommerpas.

Foto’s: gallery.apartmenttherapy.com en Visit kwkissimmee.com

Foto’s: gallery.apartmenttherapy.com en Visit kwkissimmee.com

Naas die bed is die bedkassies die volgende belangrike meubelstukke. ’n Bedkassie wat met sorg gekies is, sal gaste help om hulself tuis te maak en te ontspan. Dit moet genoeg ruimte bied vir hul persoonlike items soos horlosies en oorbelle. As daar nie plek in die kamer is vir ’n boekrak nie, moet die bedkassie ook ruimte hê vir boeke en tydskrifte. Maak seker die kassie se afwerking is van so ’n aard dat jou gaste hulle nie oor watermerke daarop hoef te bekommer nie. Wys jy gee om deur ’n waterkraffie, wekker en vars blomme daarop te sit.

Foto’s: theletteredcottage.net en shop.bazaart.me

Foto’s: theletteredcottage.net en shop.bazaart.me

Foto’s uit: blog.morestudio.co en awelltraveledwoman.tumblr.com

Foto’s uit: blog.morestudio.co en awelltraveledwoman.tumblr.com

Sommige mense voel effens onseker wanneer hulle in ’n vreemde kamer of huis oornag, maar die regte beligting sal hulle op hul gemak stel. Behalwe die daklig, is ’n bedlampie noodsaaklik. Dit laat gaste nie net toe om in die bed te lees nie, maar help hulle ook hul weg in ’n vreemde plek vind. Daar is baie kreatiewe beligtingsopsies beskikbaar wat in jou smaak sal val. As daar nie genoeg plek op die bedkassie is nie, is ’n muurlig or hanglig bo die kassie die perfekte oplossing.

Foto’s gehaal uit: casasugar.com en ebay.co.uk

Foto’s gehaal uit: casasugar.com en ebay.co.uk

’n Fantastiese meubelstuk in ’n gastekamer is ’n lessenaar wat ook as spieëlkas kan dien. Dit verskaf nie net werkruimte vir diegene wat nog kantoorwerk moet doen nie, maar ook ’n mooimaakplek sodat die badkamer nie pal beset is nie.

Foto’s uit: fleaingfrance.tumblr.com en millashem.blogspot.com  en remodelista.com

Foto’s uit: fleaingfrance.tumblr.com en millashem.blogspot.com en remodelista.com

Twee maklike bykomstighede om in te sluit is spieëls en hake. Spieëls is die perfekte bykomstighede, veral as daar nie baie plek in die badkamer is nie. Muurhake is ideaal vir die ophang van jasse en handsakke, asook items soos motorsleutels. Daar is ’n groot verskeidenheid hiervan, gemaak van metaal tot hout, om by jou smaak en begroting te pas.

As jy hierdie wenke volg, en die digter se wyse woorde hieronder in gedagte hou, sal jy maklik die perfekte kuierplek vir jou gaste skep.

“’n Gas vergeet nooit die gasheer wat hom vriendelik behandel het nie.” ~ Homer

Janel NelDeur Janel Nell: http://www.interiorcreators.com/

Oor Interior Creators

Interior Creators bied ’n gespesialiseerde, aanlyn-binneversierdiens vir huise asook kantoor-/winkelruimte, met die klem op die doen-dit-self- en koop-dit-self-neiging. Interior Creators bied ook toegang tot produkte en diensverskaffers wat kliënte in staat sal stel om te voldoen aan hul ontwerpbehoeftes wat meubels – oud, nuut en opgeknap – betref.

Viewing all 60 articles
Browse latest View live


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>